Ek moet twee keer omdraai voor ek die hek vind Dis met geroeste slot en ketting vasgebind Die grensdraad is stukkend so ek klim sommer deur Die naambord het tot naamloos in die wind verweer Ek volg 'n toegegroeide oprit in 'n bloekomboomlaning Vyeboord se takke is verwronge geraamtes Familiekerkhof stene fluister nog die name Van mense aan wie ek lank terug verwant was Ek het hier kom stilhou vir 'n laaste keer Ek het niks om te sê nie, so ek skryf maar net neer Ek dokumenteer wat die tyd beslis Geen lesse te leer nie, dit is wat dit is Steenbok verstar en vlug uit die klipskuur Ek vind die pad na die opstal langs wat oor is van die kraalmuur Aalwyn is meer gehard as 'n roostuin En kaktus hou langer as roosmaryn Rankers in die balke, vinknes teen die skoorsteen Onkruid wat doodluiters deur vloerplanke beur Porseleinteëlskerwe langs die badkamerdeur Die nok is geknak, die mure verweer Ek het hier kom stilhou vir 'n laaste keer Ek het niks om te sê nie, so ek skryf maar net neer Ek dokumenteer wat die tyd beslis Geen lesse te leer nie, dit is wat dit is Ek volg my spore terug na die motor langs die teerpad Al teken van mense hier rond, 'n plastieksak Wat windaf moes waai en teen 'n draad kom hande klap Vir die pelgrimsprosessie van 'n verloopte hart Ek het hier kom stilhou vir 'n laaste keer Ek het niks om te sê nie, so ek skryf maar net neer Ek dokumenteer wat die tyd beslis Geen lesse te leer nie, dit is wat dit is